Deborah het voor al die ander inwoners geweet dat daar dié aand weer ‘n uil op pad is. ‘n Mens se lewe bestaan tog net uit twee tye: voor die uile kom en ná hulle gekom het. Party se uile is altyd naby en sweef geruisloos saam met hulle deur die leed van die lewe – totdat hulle huil-huil roep al is wat weerklink wanneer hulle oplaas die nag nader roep en die laaste gare geknip word. Maar sý, Deborah, is die een wat – verstrengel in ‘n ander se gare – moet wag tot die môre toe wanneer die uil die laaste keer sal roep om die skoppensboer te verwelkom. Tyd vir die uitgekose om oor sy sondes na te dink terwyl sy lewensgare meter-vir-meter, minuut-vir-minuut, deur haar vingers gly.

Die hekse-uur roep die doodsuil, met sy kennis van wie sou sterf nader. Kennis van die dood, maar geen om op haar skouer te kom sit en die rede vir al die lyding vir haar te fluister nie. Om haar neem die naggeluide van die kompleks oor. Die gehuil van nommer vier se baba wie besig is om tande te kry. Musiek wat doef-doef uit ‘n tiener se kamer weergalm totdat die pa luid kom stilmaak. Onrustige troeteldiere. Insekte wat fladder om al wat ‘n lig is. ‘n Slak by haar voete wat blink patrone op die plaveisel verf. Sy, soos ‘n halwe standbeeld met oë wat stip staar, maar hande wat gare saggies knoop en weef terwyl sy op die uil wag.

Deborah weef sommer ‘n paar ekstra patrone in om die uitgekose sterwer ‘n nagmerrie te gee terwyl sy nou besig is en die uil nog nie te sien is nie. Laat hy móói oor sy sondes dink in hierdie laaste aand. Net dalk skrik hy homself ook nugter.

Wanneer die doodsvoël oplaas tot by die vuiluil se dak sweef, kan jy die mensevrees vir die donker aanvoel. Daardie vrees waarop sy so goed kan teer voordat sy die gare in die donker ure knip. Daar is tóg iets omtrent die geluide van die nag.

Die doodsuil, ‘n nonnetjiesuil, roep drie maal en draai sy kop sodat hy reguit vir Deborah kyk. Sy gesig is wit en spookagtig in die straatlig. ‘n Voël wat eintlik te mooi is om die dood aan te kondig.

“Laat daar net iets met daai kind verkeerd wees,” skel sy na die een op sy sterfbed. “Ek bring jou terug en maak jou met my eie twee hande vrek! Dan kan jy maar soos ‘n lewende dooie swerf totdat jy weer aarde word. Net ‘n hopie vergete herinneringe van ‘n ruwe man met ‘n te kort humeur.” Deborah werk die gare in patrone in. Sal hy ooit enigsins oor sy sondes dink?

Maar sy het oorgenoeg tyd oor om aan al háár sondes deur die eeue te dink. Die een sonde wat groter as die ander is, dink sy, en vou haar tjalie stywer om haar. Sy probeer sy gesig onthou. Donker hare. Donkerbruin oë wat plooitjies trek wanneer hy werklik glimlag en toeknyp wanneer hy lag. Sproete wat so lig is dat jy hulle eers sien wanneer jy naby genoeg is om hom te soen.

 

‘n Onvergeeflike fout, dalk. Maar ‘n keuse wat sy weer sal maak.

Sy vryf haar vingerpunte oor die sy van die tjalie wat nooit klaar gehekel is nie. Die res is in fyn gare gewerk – al haar gunsteling patrone deurmekaar – en lyk soos kant. ‘n Herinnering aan die gelukkigste tyd in haar lewe. En toe word hy siek. En sy onthou dat sy nie soos die sterflinge is nie.

Die uil roep-roep weer en weer en sy sien hoe sit ou vuiluil die kamerlig aan. Asof dit die doodsvoël sal wegjaag. Die dood so saam met die donkerte sal weghou. Maar die gare raak minder. Deborah tel die skêr op en bring die lemme tot teenaan die gare. Hoekom word party so baie tyd gegee? En dan is daar kinders vir wie sy nog skaars die gare opgetel het en dan moet sy dit alweer knip. Partykeer kan sy nie anders om die ma s’n – wat so om die ander een verstrengel is – ook te knip nie. Maar is dit nie partymaal beter so nie? Dat daardie keuse gemaak word. Dat jy dit wíl maak. Sál maak. Pynverligting.

Haar susters weet ook van die moeilike keuses. Hulle verstaan dis anders as om deur die stad te beweeg en net die eersgeborenes te kies. Daar is nie so ‘n vaste patroon vir hulle nie. Hulle kan een minuut of ‘n honderd jaar saam met ‘n sterfling deurbring en wag vir die skoppensboer om op te daag.

Roep-roep-huil-huil weerklink die doodskreet bo die verkeer in die verte. Huil-huil roep die doodsvoël al haar herinnerings nader. Die sterfbed. Die reuk van medisyne. Bloed. Uriene. Pynkrete wat die uil s’n uitdoof regdeur die nag. Opium. Meer opium. Een hand wat vir ‘n oomblik die gare wil los om tog nie net nog ‘n bietjie meer medisyne te gee nie. Net ‘n bietjie te veel. ‘n Hart wat breek wanneer die hand die gare vasklem.

Die dekselse uil wat huil en roep en skree en net met die dood dreig in plaas daarvan om die skoppensboer nader te roep. In plaas daarvan om die sterfling se storie af te sluit.

Maar die tjalie is nog nie klaar nie en daar lê steeds gare langs haar en sy wil die steke lostorring en die tyd terugdraai. Maar nou is daar te veel pyn. Te veel gare. En alewig die doodsvoël wat roep.

En vuiluil hou net aan en aan. Onkruid vergaan tog nie. Jaar na jaar. Sonde na sonde. Sonde sonder om om vergifnis te vra.

En dan sien sy hom weer. Donker hare en oë wat lag en kreukel en ‘n sagte stem en gekreukelde lakens en goed wat sy nie wil onthou nie, maar wat vasgesteek het saam met die uil se roep wat haar hartsvlees met skerp kloue deurboor. Die aand wat die skoppensboer steeds ver was en die uil steeds krokodiltrane huil-huil roep tussen die pynkrete deur. Die aand toe sy besluit het die tjalie is ver genoeg gewerk. Die aand wat sý medisyne uitgedeel het en ‘n kus saggies op sy klam voorkop en mond gedruk het. Te veel medisyne. ‘n Laaste kus. Langs die gekreukelde bed met die laggende-oë-man gaan sit het en die gare net geknip het nog voor die patroon kaar was. Met ‘n laaste roep-huil het die uil gevlug. Seker maar om die skoppensboer te gaan haal.

Was dit moord? Dalk was dit. Die gare was nog nie op nie.

Die enigste skuld wat daar was, was dat sy dit nie vroeër gedoen het nie.

Hoekom dan nie ook onkruid nie? Dis tog daar om uitgeroei te word. Die verswelg net alles wat goed is om hulle.

Sy tel die skêr weer op. “Laat die skoppensboer maar laat wees.” Geruisloos sny die lem deur die lewensgare. Die huil-roep word stil. Twee liggevulde oë staar na haar.

“Ek moes dit al lankal gedoen het,” sê sy vir die doodsvoël. Maar hierdie keer voel sy nie verligting nie. Sy frommel die stuk gehekelde lap op en smyt dit op die plaveisel.

“Nou kom sit dan hier en roep vir my!” skree sy. “Ek het mos ook sondes om oor na te dink!” Trane maak alles wasem-swart voordat dit oor haar wange rol en van haar ken drup. “Mag ek nie ook vrede hê nie? Om godswil kom roep dan net hier ook! Hoekom moet ék so smeek om te sterf? Is ek nie die een wat die lewensgare knip nie? Word ek nie die vernietiger van ‘n wêreld elke keer as ek die gare knip nie?”
Asof hy weet wat sy gevra het, sweef die uil tot reg by haar. Hy kyk stip in Deborah se oë en roep weer drie keer.

“Ja, roep die skoppensboer! Ek wou al lankal gesterf het. Dáái aand moes hy my maar ook gevat het. Wat is ek nou? Net ‘n leë dop. Ek moes daai aand my eie gare saam met syne geknip het. Maar ek was te bang. ’n Ma sal ek saam met haar kind stuur, maar my eie gare hou ek verstrengel in my sak. Te bang om dit te knip. Te bang om enigiets daarmee te doen. Eintlik ook bang dit raak op.”

Sy haal die verstrengelde bol gare uit haar sak.

“Is dit sonde om net by hom te wil wees?” vra sy die uil. “Sê my, is dit? Was dit sonde om sy pyn op daardie manier te verlig? Is dié lewe, nou, my straf? Of het jy toe al die tyd geen wysheid nie?”

Sy tel die skêr op. “Of dalk maak dit nie meer vir my saak nie. Niemand luister na stories van uile en vrouens wat lewensgare weef en knip nie.” Sy druk die skêr in die bol wol in. “Vanaand is ek die skoppensboer. Vanaand kies ék wanneer iemand se tyd verby is.”

Sy knip.