Die dag ná die stootskrapers lê die erf vol bourommel. Eenkant staan ‘n masjienmonster en maal die bakstene, wat eens die sitkamer gevorm het, fyn. Al die kuiers en teedrinkery. Al die begrafnisse en verjaarsdagpartytjies val in fyn rooi stof in die vorm ‘n miershoop. Van die stof beland in die wind wat dit opswiep en deurmekaar torring en teen die werkers se blou oorpakke laat plak.

Ek staan tussen hulle – bol gare in my hand – maar hulle kan my nie sien nie, het nog nie diep genoeg gegrawe om my graf te kry nie.

Sal hulle hierdie keer my liggaam vind, wonder ek. Daar in die hoek van die erf onder die groot boom wat nou ook stomp afgekap is. Die ruiseltakke wat uit my been en bloed gegroei het lê eenkant en vergete. Nou dood en net goed om ‘n vuur aan te steek. Die stukke is te klein om iets meer daarmee te doen. Gaan julle die keer diep genoeg grawe? Vra ek al weet ek hulle kan my nie hoor nie.

Of sal my beendere hierdie keer die bloedsteen van ‘n nuwe huis vorm om nooit tot ruste kom totdat ek waarlik begrawe is nie? Ek staar na die spookmure van die spookhuis met sy skimme van herinnerings wat te sterk is om slegs weg te vee. Teen die mure hang die skimme van portrette van langverlore mense. Op die vloere staan spookmeubels en speel skimkinders. Al die herinnerings wat ooit hier gemaak is, is hier gefokus. Skets die skimme soos hulle onthou word. Mooi, waserig. Party sal met tyd vergaan en met nuwes van die nuwe huise vervang word. Die bord is al klaar opgerig – spoggerige nuwe woonstelhokkies vir die stadsmense wat naby die werk wil wees en dit kan bekostig.

Die masjien spoeg nog rooi baksteenstof uit wat die wind wapper en waai en mense hulle rug laat draai.

In die strate ry karre verby. Eers een vir een, dan meer totdat hulle moet stilstaan in ‘n ry en wag vir hulle beurt by die robotte. Musiek speel terwyl hulle staar na die laaste bietjie werk wat vandag op die perseel gedoen gaan word. Party staar na die bord, besig om somme in hulle kop te maak. Hoeveel meer werk, hoeveel harder werk, hoeveel meer geld om hier ‘n gaatjie van hul eie te kan koop. En wonder saam met wie van hulle se skimme sal ek moet saamleef.