(Some Afrikaans flash fiction)

“Ek kan nie meer voel nie,” kla ek. “Die wêreld lê in skerwe om my. My hart lê aan skerwe. My voel is op.”

Hulle breek my borskas oop terwyl ek slaap en vervang my hart met een van metaal wat soos ‘n horlosie masjienagtig die tyd verby klop. Al hoor ek dit, voel ek dit nie.

Ek gaan terug.

“Die wêreld is gebroke,” sê ek. “Al wat bestaan is gebroke mense en skelms en skurke. Daar is nie meer een goeie persoon nie. Nie in al die stede van die wêreld nie.”

Hulle neem my oë en vervang hulle met koue, leë lense. Al wat ek nou kan sien is twee dimensionele foto’s van oomblikke in tyd gevries. Oomblikke wat dalk aan my behoort het, maar wat nou betekenisloos is.

Ek gaan terug.

“Die wêreld weergalm van die haat,” sê ek. “Net haat word gespuug. Vuur en vlamme wat mekaar verteer. Tonge soos swaarde. Daar is geen musiek. Geen skone klanke wat klink nie. Daar is geen medemenslikheid nie.”

Hulle breek my ore sodat ek omhul word in stilte. Maar my gedagtes skreeu steeds.

Ek gaan terug.

“Die wêreld is te vol. Die wêreld jaag my net. Ek kan nie wegkom nie. Ek kan nie ver genoeg hardloop nie.”

Hulle breek my oop en gee my ‘n nuwe geraamte van metaal. Steeds voel ek niks. Ek weet nie waar is die dele wat hulle verwyder het nie. Dalk op die bodem van ‘n rivier. Dalk gestuur na die eindhoeke van die aardbol. Niemand sal my weer aanmekaar kan sit nie.

Steeds voel ek niks.cyborg

Ek keer nie hierdie keer terug nie.

Ek hardloop na die eindelose ooptes van die Karoo. Oplaas, alleen tussen die rooibruin vlaktes, kyk ek terug vanwaar ek gekom het. Ek staar en soek en soek en staar en bloei soos ‘n grootblaardrakeboom. Maar ek voel niks. Ek kyk terug vanwaar ek gekom het. Ek vries en staan verstar en proe die soutwater wat oor my wange rol en op my mondhoeke droog word.

Ek is ‘n pilaar van yster in ‘n omhulsel van koolstof, suurstof, stikstof en waterstof. Ek is meestal niks. Ek is leë spasie tussen partikels.

 

Ek is van die wêreld.

Ek is gehaat.

Ek is ongewens.

Ek is anders.

Ek is onvergewe.

Ek is sondaar.

 

Ek is die stof van gestorwe sterre.

Ek is vergete.

Ek is sonder gevoel.

Ek is atome.

Ek is deels masjien, deels verstand.

Ek is vasgevang in ewig ruisende sand.

 

Waar sal daar nuwe hulp vandaan kom?

 

Is ek alleen.

Is ek?

Is ek liggaam?

Is ek?

Is ek siel?

 

Ek is halfmens.