Read the English version here: Dream Catcher

Die byna-vergete-skadusiel sluip in die aand deur die stad se strate. Hy beweeg tussen die flikkerende geel ligte wat in die strate brand om hom weg te hou. Hy talm in die donker ranke van middernag, in die kraak van vloerplanke en dakke wat afkoel ná ’n dag in die brandende son. Hy fluister in die krap van ’n tak teen ’n venster, in die skielike stilte ná ’n skreeu deur die nag skeur.

Hy jag die drome van die stadsbewoners en spook daar. Hy smag nie na hulle ambisie of hulle rykdom nie. Hy smag na die eenvoudige drome van die stadsgevangenes vir oop velde, berge en skoon lug. Hy jag en vang drome van hierdie plek voor die geboue en die industrie gekom het. Hy jag vir sy eie herinneringe en verlede wat onder lae plaveisel, stene en knipsels verwelkende groenigheid versteek lê. Hy soek slegs vir homself, jag slegs vir homself, onthou slegs homself, ween slegs vir homself.