Jy is weg.

My liggaam word ’n legkaart toe die hospitaal skakel. My hele wese skeur uitmekaar. My siel spat aan skerwe. Stukke lê versprei oor die aarde heen, lê verlate waar ons saam was.

Maar nou is daar niemand om my op te tel nie. Niemand om na die stukke te soek en hulle weer aanmekaar te sit nie. Niemand om sagkuns weer lewe in die dooie dele te blaas nie. Geen Isis. Geen moeder wat na my gebroke liggaam sal soek nie. Ek sal nie soos Osiris weer aanmekaar gesit word nie. Ek sal nie soos Leminkainen weer uit die water gehaal word nie. Nee, ek word alleen gelaat om sonder jou stadig — tog so stadig — na die stukke te soek.

Vir elke stuk moet ek weer in ons spore gaan loop. Maar dié keer volg ek al die paaie van herinnering alleen. Elke stuk moet weer geskaaf, gepoets, gemeet word. Al die herinneringe wat daarin opgesluit is, moet behou word. Die stof en aanpaksels van hartseer en sout trane moet weg. Dít moet nie behou word nie.

Net die mooi moet agterbly.

My ligaam is soos ’n legkaart waarvan daar stukke weg is. Dis stukkies waarna ek soek en soek maar nie kan opspoor nie. Dis die klein herinneringe wat vergete is. Vergete sal bly. Ek kan nie onthou hoe belangrik dié stukke se herinneringe is nie. Hulle vorm gate in die patroon wat my slapelose nagte gee.

Ek kan nie onthou waar ek nog nie gekyk het nie.

Is daar iets in een van daardie stukke wat al die ander stukke weer bymekaar sal hou?

Ná jare staan ek steeds met stukke van die legkaart in my hande. Daar is stukke wat net nie skoon wil was nie. Daar is stukke wat op so ’n manier gebreek is, dat hulle nie weer by die ander sal inpas nie. Daar is pyngevulde stukke wat ek nie wil terugsit nie. Dele wat ek nie wil hê van my moet deel wees nie. Wat vergete op geheime plekke moet bly.

Ná jare begin die skerwe weer aanmekaar groei, maar die bly krake wys. Letsels wat ek nie kan wegsteek nie. Iets wat in my oë wys as ek dink niemand kyk nie. Hartseer. Verlange. Seerkry. ’n Diepe seer wat nooit heeltemal sal genees in hierdie sterflike wêreld nie.

My liggaam sal ’n legkaart bly.